Stromatoliet

Moderne stromatoliete in Shark Bay, Wes-Australië.

Stromatoliete (van die Griekse στρῶμα strōma, "laag, stratum", en λίθος lithos, "rots") is ’n vorm van afsettingsgesteente in vlak water wat baie kalk bevat. Dit ontstaan deurdat sianobakterieë sediment opvang en vaskeer. Dit vorm laag op laag, soortgelyk aan die manier waarop koraalriwwe ontstaan.

Stromatoliete behoort tot die oudste fossiele en kom van omstreeks 3,5 miljard jaar gelede voor. In die Prekambrium is hulle nog baie aangetref. Hulle was veral volop in die Mesoproterosoïkum en het in die Neoproterosoïkum afgeneem.

Tans word hulle nog net in ’n paar spesiale omgewings aangetref, veral waar die water baie sout of alkalies is. Dit is omdat ’n stromatoliet vinniger deur diere vernietig word as wat dit kan aangroei. ’n Bekende plek waar dit nog voorkom, is in Shark Bay in Wes-Australië.

In Suid-Afrika kom stromatolietfossiele onder meer in die Sudwalagrotte in Mpumalanga voor, waar mooi voorbeelde binne en buite die grotte gesien kan word.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search